Soos meeste weet, is die lewe van 'n motorvervaardiger in 'n tyd van internasionale resessie beslis nie 'n maklike een nie. Met potensiële kopers wat elke sent drie maal omdraai, het verkoopssyfers die afgelope jaar drasties afgeneem. Té veel vir meeste in die bedryf. Om 'n motor in die mees kompeterende segment van die bedryf bekend te stel, is dus 'n oefening wat fyn beplanning en oorspronklike bamarking vereis, maar bowenal - besonderse waarde vir geld.
Dit is juis dié oogmerk wat duidelik deur Suzuki se nuwe klein Alto nagestreef word. 'n Stadsmotortjie vir skraps meer as die magiese R100 000 kerf is dalk nie iets wat op 'n plakkaat in die tipiese skoolseun se kamer te vinde is nie, maar vir die duisende mense rondom die metropole van ons land maak dit betreklik baie sin. Om 'n paar praktiese opofferings te maak ten einde 'n nuwe motor vir dié prys te bekom is egter te verwagte. Met die Alto het Suzuki na my mening egter die resep net reg.
Die driesilinder 1-liter enjin doen diens in beide beskikbare modelle, en hoewel geen vuurwerke verwag is nie, het die bruikbaarheid van hierdie kragbron tog verbaas. Met kraglewering van 50kW en wringkrag van 87 Nm, gedra die klein Suzuki hom (of haar) heel goed in sy natuurlike habitat- die stad. Sportiewe pretensies word selfs gemaak deur die apart- geplaasde toereteller, en om die naald dop te hou soos dit daarin dans is heel vermaaklik. Die troefkaart van hierdie rakkertjie is egter te bespeure as jy by die petrolpomp stop. Met beweerde verbruiksyfers van onder 6 liter/100km, is die Alto besonder suinig. Die vyf-gang handratkas doen boonop 'n goeie joppie om die krag oor te dra, met betreklik-presiese oorhale.
Die vering is ook besonders goed vir 'n motor in hierdie prysklas. Skokabsorbering is gemaklik, maar tog word padhouvermoeë nie besonders hierdeur ingeboet nie. Mens in deurgaans bewus van hoe "stewig" die Alto voel op die pad - vir 'n klein motor natuurlik. Stuurgevoel is goed, en tesame met die klein draaisirkel, is die Alto 'n uiters beweegbare kalant.
Stilering is heel sportief, met hoofligte wat effens aan die Nissan Micra herinner, en 'n binneruim gedomineer deur die rooi beligting van die instrumentepaneel. Soos verwag kan word is die materiale binne maar taamlik plastiek van aard, maar wat meer wil jy nou rerig hê as jou hoofoorweging waarde vir geld is? Die Alto blyk goed aanmekaar gesit te wees, daar is geen skudgeluide of ongemaklike padgeraas te bespeur nie.
Vier insittendes behoort nie te veel probleme te hê om na punt B te gaan in die Alto nie, mits bagasie natuurlik tot die uiterse minimum beperk word- die laairuimte is werklik klein!
Die Alto is huidiglik in GL-en GLS gewaad beskikbaar, teen R104 900 en R119 900 onderskeidelik. Beide is standaard met lugversorging toegerus, asook 2 lugsakke- iets waarmee mededingers soos die Hyundai i10 en die Kia Picanto se intreevlakmodelle nie kan spog nie. Die "luukser" GLS word onderskei deur 14-duim allooiwiele, voorste misligte, sentrale sluit stelsel, elektriese voorruite asook 'n 6-luidspreker mp3-versoenbare klankstelsel. Verder word remhulp in die vorm van ABS, EBD en BA ook ingespan om dinge tot 'n veilige halt te bring.
Beide modelle blyk besonderse waarde vir geld te wees, en as dié pakket toegedraai word in 'n 3jaar/100 000km diensplan, lyk dit na 'n aantreklike kopie.