Galimoto MEDIA

  • Increase font size
  • Default font size
  • Decrease font size

Dakar 2011

E-mail Print PDF
User Rating: / 0
PoorBest 

Dakar 2011 en ultra-tydrenne het ‘n lang aanloop...

Oujaar is uitpaktyd en regmaak vir die nuwe jaar! Dit is veral dán wat daar weer kosbaarhede uit die verlede gekry word en daar op die ou einde omtrent niks weggegooi word nie. Soos die Britse motortydskrif van 1949 met ‘n spotprent oor die eerste Trans-Afrika tydren wat vir 1950-1951 in die vooruitsig gestel was. (Vir hierdie kosbare tydskrif moet ek weereens  vir Chris Steyn dankie sê).

Die spotprent by hierdie artikel sê nogal baie. Die Tweede Wêreldoorlog was pas afgehandel en Brittanje en Frankryk was angstig om weer hulle ekonomië aan die gang te kry en hulle Afrika-kolonies vir hulle te laat werk. Beide lande het hulle harte op die motorbedryf geplaas om daardeur dollars op die internasionale uitvoermark te bekom.

Die koloniale gebiede met hulle rowwe paaie was die ideale toetsterrein en dié plek om die gehalte van hulle voertuie aan die wêreld te wys. Die Britse Land-Rover wat in 1949 die lig gesien het, was juis een van die voertuie wat vir die kolonies ontwikkel is en eers later ander markte ook betree het.

So ook met die Franse se Renault Collorale wat ‘n hoogbenige 4x4 voertuig met ‘n stasiewa bakwerk toegerus was. Die naam van die Renault is die Franse weergawe van die woorde colonial en rural en weerspieël duidelik dat die nismark koloniale Afrika was.

Die beplande tydren met Kaapstad as eindpunt het toe in 1950 afgeskop met deelnemers vanaf Marokko en Algerië die lang tog Kaap toe aangepak het. Maar dit was nie die Franse fabriekspanne wat in die ligte motorklas meegeding het wat die kalklig gesteel het nie; dit was die ouma en haar skoondogter wat in ‘n standaard Volkswagen hierdie klas gewen het.

Die Trans-Afrika tydren van die Middellandse See tot by Kaapstad was vir ‘n dekade lank ‘n gereelde instelling wat groot publisiteitswaarde vir die oorwinnaar ingehou het en wat tydens die laaste paar tydrenne groot name onder die jaers opgelewer het soos Karl Kling (Mercedes) en Gendebien (Citroën).

In 1960 het die meeste Franse en die Engelse kolonies hulle onafhanklikheid ontvang. In die voormalige Belgiese Kongo, een van die belangrike lande op die roete van die Trans-Afrika tydrenne, het daar totale anargie en menseslagting uitgebreek en is daar besluit om die roete van die tydren drasties te verander.

In plaas van die Kaap is daar besluit om duskant die Kongo op te hou en het die beginpunt Parys geword en die eindpunt Dakar. En so het die Dakar ontstaan. Maar ná 1990 het daar weer hoop opgevlam dat Kaapstad weer die eindpunt moet wees – soos in die koloniale tye – juis om te toon dat die hele Afrika nou bevry was.

Die gevolg was die Total  Paris sirtie le Cap – soos dit amptelik bekend gestaan het. Vir die eerste keer in dekades kon plaaslike motorjoernaliste iets van die skouspel van ware internasionale tydrenne waarneem. Maar vir die van ons wat in 1992 by Bloubergstrand die gebeurtenis gade geslaan het, was dit maar ‘n flouerige spulletjie omdat daar geen werklike skouspelagtige snelheidstrajekte soos in die Sahara se duine was nie. Wat my destyds die meeste beïndruk het was die mooie Utta met haar BMW motorfiets met die Warstein bieradvertensie plakkers.

Soos in 1960, het die politieke situasie in Afrika weereens ‘n risiko vir die deelnemers ingehou en is daar besluit om die Dakar na ‘n ander kontinent te verskuif; slegs die naam het gebly omdat die organiseerders waarskynlik die naam geregistreer het as ‘n handelsmerk.

Die gelukkiges wat oor ‘n DSTV subskripsie beskik kon die wedren in Suid-Amerika elke dag volg; die res van ons kon net die vordering van ons Bolandse held, Giniel de Villiers, elke dag in die plaaslike koerante lees. Met die skryf van hierdie artikel is die uitslag nog nie bekend nie maar aanvaar ons dat Volkswagen die moeder van alle tydrenne gewen het. Of ten minste die vervaardigerstrofee.

En as onse Giniel weer so goed soos tevore gedoen het, wag daar weer ‘n heldeontvangs op hom. Amper so-iets soos die ontvangs wat die ouma en haar skoondogter ná hulle Afrika-sege in Wolfsburg ontvang het toe hulle met hulle kewertjie daar opgedaag het!

 


 

 

 

Add comment


Security code
Refresh