Motoreienaars was nog al die jare dié groep Suid-Afrikaners wat in verhouding tot ander burgers die meeste geld in die staat se sak laat beland het. Daar is die koopbelasting wat by nuwe motors betaal moet word, die belasting op petrol, die jaarlikse lisensie wat die Duitsers “padbelasting” noem en dan natuurlik ook die (wettige) spoedkameras op vreemde plekke langs die pad.
Almal wat een of ander tyd Noorde toe ry, kom altyd terug met ‘n paar kaartjies wat amper gelyk is aan die brandstofkoste. En dan nog die bestuurlisensies wat elke paar jaar hernu moet word. En as hulle gesteel of verloor word weer ‘n irriterende wagtydperk het terwyl al die gegewens van elke motorbestuurder op ‘n sentrale rekenaar-databasis bestaan en daar niks is wat verhoed dat ‘n gesteelde/verlore lisensie binne ‘n uur pf wat vervang kan word nie. Banke doen dit al jare lank - en teen ‘n minimale fooi.
Die N1 en N2 wat nou tolpaaie gaan word, is seker die grootste frustrasie wat ons gewone mense gaan ondervind. Lees toe nou die dag in die koerant dat die betrokke minister onder andere sê dat ons bly moet wees dat ons op paaie gaan ry wat goed onderhou gaan word. Wat bedoel hy? Is ons nie geregtig om in elk geval op paaie te ry wat goed onderhou word nie? Dit is die staat se plig om te sorg dat daar water, elektrisiteit en sanitasie vir al ons mense is. En paaie is deel van daardie dinge wat die staat aan sy burgers moet voorsien. Dit is ‘n stommiteit.
Een van die redes vir die tolpadstelsel is dat ons minder met ons eie motors moet ry en meer met die trein. En toe skryf ‘n leser van Die Burger toe dat dit heelwat meer kos om vrugte van Grabouw Kaap toe te vervoer as per pad. Van ekonomie weet ek bitter min maar glo dat hierdie nuwe idee net alles se pryse verder gaan opjaag. Terloops, ek het nog nie gehoor van ‘n politikus wat elke met die trein Kaap toe ry nie.
Dan oor die uitlaatgasse van nuwe motors waar ‘n belasting gehef word op enjins wat nie so heeltemal skoon is nie. ‘n Vriend by ‘n voorste vervaardiger in die land vertel nou laas week dat hulle motors met regtige skoon uitlaatgasse bou maar almal uitvoer omdat die brandstof wat hier verkoop word, nie skoon genoeg is vir hierdie enjins nie! Is die staat regtig bekommerd oor hoe “groen” ons omgewing is, of wil hulle maar net ons motoriste nog méér melk om prestige sedans en 4x4’s vir hulle top-amptenare te voorsien. As dit so aangaan, gaan die koeie later uitgemelk raak en doodgaan.
Verkeerskameras op die regte plekke is ‘n goeie idee. Maar wat help kamera’s as die manne met die motorfietse – sonder nommerplate, of nommerplate wat só gedraai kan word dat hulle nie leesbaar is nie – teen 120 km/h of meer by Louw se Bos deurjaag nie. Self gesien! Iewers moet daar nog ‘n regte verkeerspolisieman wees wat hom ‘n kilometer verder kan afkeer en op die plek sy lisensie intrek. Die stelsel van die gebruik van ongemerkte verkeerspolisievoertuie in die Kaapse Metropool om padvarke op die plek vas te trek, moet uitgebrei word.
Maar al die foute lê nie net by die regering nie. Vanoggend, toe ek in die ry werk toe dink oor wat ek in die artikel moet skryf, vleg die bestuurder van ‘n Ford Fiesta met die nommer CL 46480 heen en weer van links na regs en terug deur die oggendverkeer Stellenbosch toe. Goeie wetsgehoorsame en konsidererende bestuurder wat ek is, laat ek ‘n motor-spasie tussen my en die motor voor my. Volgende oomblik trek die Fiesta voor my in sodat ek erg rem moet trap (dankie ABS) om ‘n botsing te vermy. Toe ek toeter, gooi hy vir my ‘n baie onvriendelike, crimen injuria teken met ‘n vinger wat sê ek is Nommer Een! Nie ‘n hand in die lug teken om te sê hy is jammer nie! Of sorry sê met die noodflikkers nie. Hiermee het hy hom (pad)vark van die maand gemaak.
Foto met vergunning van Die Burger (4.8.2010)






