Indië teiken die wêreldmark
Tot dusver het Mahindra eerstens voertuie vervaardig vir die Indiese mark en dan daarna ook die voertuie verder in die wêreld versprei, waaronder Suid-Afrika. Die nuwe Mahindra XUV500 (uitgespreek XUV vyf dubbel nul) is egter die eerste model van hierdie Indiese vervaardiger wat as wêreldmotor ontwikkel is.
Die model is ook Mahindra se eerste globale mededinger in die boonste segment van die sportnutsvoertuigmark. Insiggewend is die feit dat Suid-Afrika die tweede land in die wêreld was waar die model bekendgestel is, slegs een dag na die bekendstelling in Indië op 29 September 2011.
Volgens Mahindra is die lyne van die ontwerp geïnspireer deur “‘n jagluiperd wat op sy prooi toesak”. Die voorkant met sy prominente sierrooster simboliseer die kake van die roofdier. Dit mag nou in almal se smaak van nie, maar dit staan vir seker onmiskenbaar uit.
Die Mahindra reeks bestaan uit drie verskillende modelle; die XUV500 W6, die XUV500 W8 (albei 4x2 modelle) en die top van die reeks XUV500 W8 4x4.
Die W6 en W8 dui op die verskil in afwerkingsvlakke met die W8 die meer luukse weergawe. Die ruim kajuit van die Mahindra spog ook met ‘n hoë vlak van toerusting. Die W8-modelle het tweekleur-leerbekleedsel, terwyl die sitplekke van die W6-model oorgetrek is met duursame materiaal. Die kajuit het verskeie bêreruimtes. Daar is byvoorbeeld meer as voldoende ruimte in die rommelkassie vir ‘n skootrekenaar en daar is ‘n koelkassie in die middelkonsole ingebou.
Geriefsitems sluit in dubbelsone-klimaatbeheer, sowel as elektriese ruit- en kantspieëlverstelling en afstandbeheerde sentrale sluiting. Die kantspieëls kan terug gekantel word wanneer die bestuurder in ‘n knap ruimte moet parkeer. Die Mahindra het ‘n omvattende inligting/vermaakstelsel. Dit sluit in ‘n FM-radio/CD speler wat beheer word van ‘n middelgemonteerde 15 cm-raakskerm met ‘n navigasiestelsel, sowel as MP3-, USB-, Bluetooth- en iPod-skakeling. Die klankstelsel het ses luidsprekers met ingeboude hoëtoonluidsprekers. Daar is ook satellietkontroles vir die klankstelsel aan die stuurwiel (wat ook stemkontrole insluit), en ook vir die snelheidsbeheerstelsel.
Die geïntegreerde bestuurdersinligtingstelsel hou die bestuurder op die hoogte van belangrike inligting, soos afstand voordat die brandstoftenk hervul moet word en banddruk en -temperatuur. Die Intellipark-truparkeerstelsel gebruik die LCD-skerm om die afstand tussen die agterbuffer en ‘n voorwerp agter die motor aan te dui.
Veiligheidstoerusting sluit in elektroniese stabiliteitsbeheer met ‘n sensor wat rolbeweging bespeur, lugsakke en frommelsones. Twee ander belangrike veiligheidseienskappe is die projektor-tipe xenon-kopligte, wat op stuurinsette reageer en na die kante toe kan draai, en die Tyretronics-stelsel wat die banddruk en -bandtemperatuur monitor. Misligte voor is standaard op al drie modelle.
Die binneruimte lyk luuks en daar ‘n keuse van kleur tussen swart en beige. Daar is twee sitplekke agter wat normaalweg platgeslaan word maar sitplek vir sewe insittendes bied wanneer nodig. In hierdie geval is daar dan min bagasieruim oor.
Bestuurdershulpmiddels in die twee W8-modelle sluit in outomatiese stelsels wat die bestuurder help wanneer daar teen afdraandes afgery word of keer dat die voertuig agteruitloop wanneer teen ‘n helling weggetrek moet word. Al drie modelle het snelheidsbeheer, Intellipark-parkeerhulp voor en agter, liggevoelige kopligte en reën-gevoelige ruitveërs.
Al drie modelle word aangedryf deur dieselfde enjin, ‘n turbodiesel viersilinderenjin van 2,2 liter wat 103kW krag by 3 750 r/min ontwikkel en 330 Nm wringkrag teen tussen ‘n baie bruikbare 1 600 en 2 800 r/min beskikbaar stel. ‘n Sesganghandratkas word gebruik, met ‘n laestrek-oordraratkas vir die 4x4-model. Die vierwieldryfstelsel van die W8 4x4-model het ‘n interaktiewe wringkragbestuurstelsel wat gladweg tussen twee- en vierwieldryf skakel. Goeie remkrag word verkry danksy ‘n ABS-stelsel, remskywe aan al vier wiele, elektroniese remkragverspreiding (ERV) en noodremhulp. Die nuwe Mahindra is toegerus met staalwiele op die W6-model en allooi op die W8-modelle, en is toegerus met P235/65R17 bande. Volgens Mahindra kan die XUV500 tot so min as 7,1 l/100km brandstofverbruik haal. Die brandstoftenk is lekker groot en kan 70 liter petrol neem.
Die XUV500 van die veerstelsel is onafhanklik op al vier wiele en op ‘n kort bekendstellings rit op die hoëveld met die XUV500 met 4x2 aandrywing het die motor ‘n gevoel van goeie padgedrag geopenbaar en was baie gemaklik om te bestuur. Daar was min bakrol, alhoewel daar nie baie eintlik kans was om sy vermoë op draaie te toets nie. Maar in gewone alledaagse bestuur boesem die XUV500 genoegsame vertroue in om ‘n gevoel van stabiliteit en veiligheid te gee.
Die pryse begin by R239 900 vir die W6 4x2-model. Die W8 4x2 met sy hoër spesifikasie kos R269 900, en die vlagskip van die reeks, die W8 met vierwielaandrywing, is R289 900.
Gemoedrus vir kopers word gebied deur ‘n waarborg van drie jaar/100 000km, ‘n driejaar- of 60 000 km diensplan en padbystand vir die eerste jaar. Daar is tans 43 Mahindra handelaars in Suid-Afrika wat gerieflik is as dienste in gedagte gehou word.







Comments
Groete
Jacque