‘n Splinternuwe Aksent!
Keer op keer trek Hyundai die haas uit die hoed uit; dit is so al of hulle iewers besig is met oëverblindery soos net die kulkunstenaars dit kan doen.
Hyundai se toertjies, eintlik kragtoere, het begin met die bekendstelling van die nuwe Sonata so ‘n tyd gelede. Hierdie motor, met sy stylvolle maar byderwetse vloeinde en skerp stilering het selfs die Duitsers onkant betrap en half sprakeloos gelaat. Die goeie nuus was ook dat die motor werklik bekostigbaar is teenoor die Europese kompetisie teen wie die Sonata meeding.
Op die hake van die Sonata het die middelklas Elantra die lig gesien; ‘n motor wat die selfde visuele impak as die Sonata gemaak het en weereens die opposisie onkant gevang het. En nou is daar die effens kleiner, maar nog steeds baie ruim, nuwe Accent op die mark.
Die Accent het nie die lang bloedlyn van sommige Duitse modelle nie. Maar hy stam tog uit ‘n bekende perdefamilie; die eerste motor wat Hyundai in die sewentigerjare in die VSA bemark het, was die Pony genoem. Dit was juis in Time Magazine wat ek destyds van die nuwe handelsnaam gehoor het. Ook onthou ek dat dit veral die prys was wat hom by die Amerikaanse kopers gewild gemaak het. Op hierdie stadium was stilering beslis nie die sterk trekpleister wat die nuwe model, die sewende opgradering van die Pony, vandag is nie.
Synde nie op hoogte met die ontwerpkuns nie, haal ek direk aan wat die manne van Hyundai oor die nuwe ontwerp te sê het: “Met sy koepee-agtige profiel – soortgelyk aan die ontwerp van Hyundai se onlangse nuwe modelle soos die Sonata en Elantra – toon die nuwe Accent se buite-ontwerp dinamiese en verfynde grafiese elemente, waaronder die halogeen-hoofligte met hul valkoog-voorkoms, die misligte met hul unieke L-vorm en die groot seshoekige sierrooster”. En dan ook oor die binnekant: “Binne-in die kajuit waar die vloeiende karakterlyne voortgesit word, is ‘n Y-vormige middelkonsole geskep waar swart glansmateriaal en metaalkleure gebruik is om ‘n futuristiese en hipertegnologiese voorkoms aan die Accent se binneruim te bied.” Dit aldus die vervaardiger. Al wat ek hier kan byvoeg, is my geheelindruk: die binneruimte gee die gevoel van lig en ruimte en gemaklikheid. En die instrumente en beheerverstellings verg nie ‘n handboek wat eers gelees moet word nie. Dit is die ou, beproefde resep – hou dinge so eenvoudig as moontlik sonder om agter te raak by ander.
Die nuwe Accent is effens langer is as dié van die vorige model en gee sodoende meer ruimte en gerief vir die wat voor en agter sit en is ook vergelykbaar met dié van ‘n mediumgrootte motor. Die nuwe model is dus langer en breër as sy voorganger maar effens laer om windweerstand te verminder. Die bagasieruim is groot genoeg om ‘n groot gasbottel (dwars) te kan vervoer.
Hoe ry hy? Hy staan op 15 duim-staalwiele wat ‘n goeie rit op beide grond en teerpaaie versker. Die suspensie is soepel en knikke word sagweg verwerk om nie stamperig te wees nie. Om draaie is daar geen onbeheerde rolbewegings nie en skep hy die indruk van padvastheid met sy McPherson vering voor en wringbalk-as agter met krulvere. Hier kry die Accent goeie punte.
Die hart van die nuwe Accent is die 1,6 liter viersilinder Gamma-petrolenjin dubbele bo-nokasse en veelpunt-brandstofinspuiting en konstante veranderbare kleptydreëling (CVVT). Die enjin ontwikkel 91 kW teen 6 300 rpm en stel 156 Nm teen 4 200 rpm beskikbaar. In die praktyk beteken dit dat die gladde vyfgangratkas vryelik gebruik moet word om van die ponie ‘n renperd te maak. (Daar is ook ‘n outomatiese viergang-ratkas watongelukkig nie beskikbaar was by die bekendstelling nie. Maar volgens die vervaardiger is kragverlies in hierdie ratkas byna heeltemal uitgeskakel deur ‘n verbeterde kragomsetter te gebruik wat sportiewe versnelling meebring). Hyundai maak ook daarop aanspraak dat by die handratweergawe brandstofverbruik van 6,0 liter / 100 km verwag kan word en by die outomatiese weergawe, 6,4 liter / 100 km.
Hyundai het oor die afgelope dekade getoon dat hulle hul motors van sterk staal bou; en hoe belangriker die bepaalde komponente, hoe harder die staal. Verder is al die jongste veiligheidsmeganismes daar: sluitweer-remstelsel (ABS), lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier en vier driepunt-veiligheidsgordels en skyfremme rondom met die voorstes wat geventileer is. (‘n Dom vraag van my kant af; hoekom nie ook sommer die agterstes dieselfde as voor maak nie? Dan stel hulle ‘n nuwe standaard vir die motorbedryf!).
Wie gaan die Accent koop? Hyundai het hulle oog op die jongmensmark, daarvan getuig die indrukwekkende klankstelsel met ‘n USB-koppelpunt in die middelkonsole vir ‘n iPod, MP3-speler of enige ander draagbare musiekspeler, sowel as ‘n geïntegreerde Bluetooth-stelsel en iPod-koppelkabel as standaard-toerusting in die GLS-modelle. Dit stel die bestuurder in staat stel om veilig selfoonoproepe te beantwoord en om musiek sonder ‘n kabelkoppeling oor die Accent se stereo-luidsprekers te speel. Dieselfde geld vir die ritrekenaar. Maar my voorspelling is dat ook mense wat op pensioen gaan, hom gaan koop – al weet hulle nie hoe al die nuwe tegnologie werk nie! Maar wat die oueres van dae gaan geniet is die parkeerhulp wat standaard op die GLS-modelle is.
Wat kos hierdie nuwe vuurwa? Die intreemodel GL handrat gaan die nuwe eienaar R146 900 uit die sak jaag, die GLS met al sy ekstras R156 900 en die outomatiese ratkasmodel RR167 900. Al hierdie modelle word gedek deur ‘n diensplan wat oor 5 jaar strek, of natuurlik 90 000 km, watter een ook al eerste verstryk. Dit gee aan die eienaar dubbele tevredenheid: Daar is geen verborge kostes oor hierdie tydperk nie en ook die vertroue dat Hyundai self vertroue het in hulle voertuie dat hulle nie maklik sal breek en op ‘n afgeleë plek die eienaar of die maatskappy in die steek laat nie! Miskien is ‘n besoek aan ‘n Hyundai-handelaar die moeite werd?






