Galimoto MEDIA

  • Increase font size
  • Default font size
  • Decrease font size

Chevrolet Spark

E-mail Print PDF
User Rating: / 0
PoorBest 

‘n vonk in die GM-kruitvat

Tydens ‘n indrukwekkende bekendstellings seremonie het General Motors (GM) sy ewe indrukwekkende nuwe en verbeterde Chevrolet Spark aan die pers bekend gestel.  En laat daar geen twyfel wees nie, die nuwe klein Spark gaan beslis ‘n nuwe vonk aan GM se kruitvat verskaf.

Die nuwe Spark met sy verbeterde funksionele en brandstofverbruik ontwerp het slegs enkele maande ná sy bekendstelling in Brittanje en Indiē sy opwagting in Suid-Afrika gemaak.  Goeie nuus vir Spark-eienaars is dat die bestaande reeks hiermee slegs uitgebrei word en nie die vorige Sparks vervang nie.  Laasgenoemde sal nou bekend staan as die Spark Lite L en die Spark Lite LS.  Hierdie twee modelle kompeteer in die onder R100 000 marksegment wat aan eerste kopers die geleentheid gegee het om op ‘n baie bekostigbare manier die mark te betree.

Die nuwe Spark sal ook in twee modelvorms beskikbaar wees, naamlik ‘n “L” en ‘n “LS” variant.  Beide word aangedryf deur ‘n 1,2 liter 4-silinder DOHC 16-klep enjin.  Brandstofinspuiting sorg vir ‘n optimum energie-verbruik en lewer 60 kW krag by 6400 rpm met ‘n top wringkrag van 108 Nm by 4800 opm.  Hierdie kraglewering word deur middel van ‘n vyfgang handratkas na die voorwiele verplaas.

Met die eerste oogopslag lyk die nuwe Spark, soos sy ouer neef, ietwat aan die beknopkant maar die vindingryke binneontwerp verskaf sitplek aan vyf insittendes met 170 liter bagasieruimte.  Maar wanneer die voorste sitplekke effens vorentoe verskuif word kan die agtestes heeltemal platslaan om sodoende heelwat meer pakruimte te verskaf.  Op voorwaarde natuurlik dat honde, kinders, bediendes en oumas en oupas tuis gelos word!  Ruimtes aan die binnekant van die voordeure en ‘n konsole tussen die sitplekke tesame met enkele glashouers verskaf ekstra plek om die klein noodsaaklike artikels in te berg. 

Die basiese L-model bied alreeds standaard luukse wat mens by duurder modelle sal verwag en sluit in kragstuur, lugreēling, ‘n radio en CD-speler met MP3 funksie en lugsakke vir beide die bestuurder en voorste passasier.  Verdere geriewe sluit in:  ‘n ontmister  en reēnveēr op die agterruit wat soos die res van die vensters getint is, ‘n alarm en immobiliseerder sowel as ‘n sentrale sluitstelsel met afstandbeheer.

Die L-model se meer luukse LS-boetie bied selfs nog meer.  Gekleurde deurhandvatsels (die agterste deure se handvatsel is onopsigtelik hoog in lyn met die venster vertikaal gemonteer), elektriesbeheerde kantspieēls wat kan verwarm, elektriese vensters voor, ‘n bagasiebak wat met afstandbeheer kan oopmaak, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en deure wat outomaties sluit voeg nog ekstra waarde tot hierdie fenomenale nuwe Spark-reeks.

Met die tipiese Chevrolet vooraansig en opvallende vaartbelynde bakontwerp vang die nuwe Spark dadelik die oog.  Daarby is die Spark beskikbaar in haas elke kleur van die reēnboog, naamlik wit, rooi, houtskoolgrys, silwer, liggroen, donker en ligblou.  Werklik ‘n nagmerrie vir enige verkleurmannetjie wat tussen al die modelle sou verdwaal.

Uitstaande pluspunte van hierdie besondere klein motor is sy opvallende aantreklike ontwerp, die waarde wat dit vir jou geld bied in terme van luukse wat jy nie in hierdie prysklas verwag nie, ekonomiese brandstofverbruik en uitsonderlike padgedrag.

Die L-model word verkoop vir R115 495 en die LS-model vir R125 495 en soos alle ander modelle in die GM-stal word die voertuie gedek deur ‘n 5 jaar/120 000 km waarborg wat ook enige roes dek.  Padbystandhulp is ook beskikbaar gedurende die waarborg tyd.  Diensintervalle is elke 1 jaar of 15 000 km terwyl ‘n opsionele diensplan beskikbaar is.

Die nuwe Spark sal vanaf einde Julie by alle Chevrolet-handelaars beskikbaar wees.

 

 

Add comment


Security code
Refresh