Galimoto MEDIA

  • Increase font size
  • Default font size
  • Decrease font size

Mazda6 Active

E-mail Print PDF
User Rating: / 0
PoorBest 

Mazda6 slaan ‘n Ses!

Dit was in 2003 wat Mazda almal verbaas het toe hy sy eerste “6” op die mark gebring het en nuwe lewe in die motormark geblaas het. Self onthou ek hoe die agterligte my half aan diskoligte laat dink het; en nou gebruik feitlik al die vervaardigers hierdie ligte!

Die Mazda6 het so pas ‘n klompie verbeteringe ondergaan om hom weer in rat te kry vir die hoogs-kompeterende motormark in Suid-Afrika. Want kompeterend is hy beslis. En ook anders en ander maatstawwe geld by ons want ‘n klompie jare gelede het Mazda die toekenning in die kieskeurige Duitsland as die beste ingevoerde motor van die jaar ontvang. En dit sê baie.

Na ‘n week met die nuwe Mazda6 Active 2 liter met sy 6-gang ratkas het ek weereens respek gekry vir die maatskappy se motors wat waarde vir geld bied. Maar dit is deesdae ook méér as net dit; daar is ook ‘n sprankel en ‘n vonk wat miskien vroeër nie daar was nie.

Die Mazda6 is ‘n groot middelslag sedan wat op grootte meeding met die duur masjiene uit Beiere en die land van die Swabe. Die snobwaarde ontbreek miskien, en daardie hoogs-ontwikkelde sport-onderstel ook, maar as die finale somme gemaak word, lyk dinge baie positief vir hierdie Japannees.

Die voorkoms van die Mazda is skerp en byderwets en die toerusting beïndruk al die pad; van die klankstelsel tot die sitplekke. En dan is daar natuurlik al die “ekstra” toerusting en luukses wat deesdae standaardtoerusting is; ‘n ses-CD wisselaar, 17” wiele om die rondings mooi vol te maak (maar wat ook beter hantering tot gevolg het) en dan sulke lekker dinge wat ook veiligheid bevorder soos die radio wat vanaf die stuurwiel beheer kan word en ook die feit dat die bestuurder se sitplek elektries verstelbaar is deur die druk van knoppies. Met laasgenoemde eienskap was Mazda een van die pioniers. En dan natuurlik ook die windskermveërs wat vanself begin werk as daar water op die windskerm land. Noem dit, en dit is daar. So ook die ses lugsakke wat deesdae verwag word om ekstra veiligheid binne die kajuit te verseker.

Onder die enjinkap is daar die beproefde 2.0-liter enjin wat 108kW teen 6 500 rpm ontwikkel en 184 Nm teen 4000 rpm beskikbaar maak. Met wringkrag wat eers teen hoë toere ontwikkel word, kan die ratkas vryelik gebruik word om die regte krag teen die regte spoed te verseker. Maar dit beteken nie dat daar nie genoeg krag teen lae enjinsnelhede beskikbaar is nie; dit is net eenvoudig lekker om tussen die ses ratte rond te speel! Aandrywing van die enjin af na die voorwiele deur die sesgang ratkas is glad en is daar nie kanse dat die verkeerde rat gekoppel sal word nie. Al hierdie meganika stel die Active in staat om in net meer as 10 sekondes van o-100 km/h te versnel en om die naald op 204 km/h te laat draai. Met die ses ratte vorentoe draai die enjin redelik stadig en is hy dus ook relatief lig op brandstof – as die groot bak in aanmerking geneem word. Algehele verbruik behoort tussen 8 en 9 liter/ 100 km te wees.
Die Mazda6 is nie ‘n renperd nie maar stadig is hy ook nie en die suspensie is goed aangepas om ‘n sportiewe rit te gee sonder om stamperig te wees met hoog-gemonteerde McPherson stutte met dubbele mikvere voor en multiskakel agtersuspensie. Sit sy neus vinnig deur die draaie en hy boesem vertroue in.

Met al hierdie positiewe kommentaar op die Mazda6, soos talle van my mede-skrywers ook doen, bly daar die vraag hoekom daar nie méér van hulle op die pad gesien word nie. Die antwoord het ek nie; wat ek wel weet is dat die Camry byvoorbeeld in die VSA ‘n topverkoper is terwyl hy hier van die mark verdwyn het. En van die Camry gepraat; die Mazda laat my nogal aan hom dink behalwe dat die Mazda daardie esktra sprankel het wat by sy opponent ontbreek het.

Die aantreklikheid van die Mazda6 word verhoog deur die feit dat dienste slegs elke
15 000 km gedoen moet word en dat die motor oor ‘n vier jaar/120 000 km waarborg beskik asook ‘n Mazda Motion vyf-jaar of 90 000 km diensplan.

En wat kos hierdie windmaker-staatmaker? R286 170. En as daar metaal glinsterverf verlang word, kom daar nog R750 by. Kies maar die kleur self!

 


 

 

Add comment


Security code
Refresh